Konsentrasiekamp

No votes yet.
Please wait...
Uitdaging
-
Kategorie
Kortverhale
Geskryf deur
Datum
Konsentrasiekamp

Konsentrasiekamp

“Kitchener het homself ontferm oor ‘n voëltjie in ‘n hok, maar kon homself nie ontferm oor die vroue en kinders wat in haglike omstandighede in konsentrasiekampe gesterf het nie.” (Kol. Frik Jacobs, RIV).

Langs die grensdraad hang daar ’n reuk van dooies. ’n Reuk wat smaarmoedig verby die flou lig swerf en dan terugkeer na hierdie geplunderde podium vol maer, siek mense. Almal het hulself oornag verloor. Nou is ons blote vraagtekens in ’n koue, kil labarint. Kinders se gekerm. Die rou snikke van vrouens. Hulle veg teen meer as hongersnood en siekte. Hulle is immers elke oomblik bewus van die soldate se wellustige kyke. Veral daardie vet gedrog met drie strepe op sy mou. Hy het al elke liewe vrou met sy oë uitgetrek en homself in sy siek fantasie op hulle afgedwing. Die varke wat pa op sy plaas gehad het, het meer beskaafdheid in hulle as die donnerse klomp pienk-gesigte van Engeland.

My klein niggie probeer flou glimlag wanneer ek haar lippe natmaak met ’n paar druppels water. Sy hoop dat sy ons nog kan flous deur voor te gee dat sy sterk is. Maar daardie leë, morbiede kyk in haar oë verklap alles. Sy het lankal opgegee. Haar lippe beweeg effens en dit lyk asof sy iets probeer prewel. Haar oë is huisvestings van die doodsengel; skuilplekke vir ’n trop honger swart honde wat hul pad in die verderf alte goed ken. Dan is haar lippe stil. Ek voel haar voorkop. Jirre, dis die hel self. Sy is bleker as doodsbleek. Hoekom sien ek dit nou eers? My brandmaer ma moet al haar laaste krag inspan om my van die lykie af weg te trek. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.

Langs die vlak graf met die gehawende kissie daarbinne maal die predikant se stem eentonig deur ’n landskap van smart. Sy oë verklap dat hy lankal nie meer glo in wat hy daar lees nie. Hoe langer hy lees, hoe stywer klem my regterhand om ’n half geroeste vurkie wat ek altyd by my dra. Die predikant se oë sluit nie eers wanneer hy die gebed doen nie. Iewers lag ’n Engelsman. Ek ken daardie lag. Die predikant sak skielik met ’n kreun inmekaar en val binne in die graf met ’n dowwe slag op die kissie.

Daardie nag dreun die onweer oral om ons heen. Ek en ma hou mekaar styf vas in die tent. Die duiwel is finaal los. Daardie Satan van ouds wat dag na dag met ’n swaar ketting om sy nek hier tussen tente, grafte, pis en stront kruip. Sy ketting is nou los en ek staal myself teen die dreigende aanslag wat moontlik vannag nog gaan toeslaan. Ek klem die half geroeste vurkie in my een hand vas. My ander arm is om mamma se benerige lyf. Die wind ruk uittartend aan die tent. Dit is asof ek in die gitswart nag die wit van my kneukels kan sien soos my hand al hoe stywer om die vurkie vou.

Die Satan kom in die vorm van ’n donderslag. So hard soos ek nog nooit vantevore gehoor het nie. Boosaardig verlig bliksemstrale die toneel, sodat Satan in die vorm van die vark met die drie strepe op sy mou skielik by die tent se opening verskyn.
“Don’t make a fucking sound!” sy stem is skaars hoorbaar bo die lawaai van die storm.
Hy maak sy belt los.
“I’ve been watching the two of you…”
Hy tree vorentoe. Dit lyk asof sy oë dooierus neem op my bors.

Hy gryp my voor die bors en skop vir ma eenkant toe. In ’n dans van die doderyk swaai my arm en drie tande van ’n armsalige ou vurkie steek deur sy linkeroog. Die storm demp sy histeriese geskree. Ek pluk die vurkie uit en bêre dit diep in die ander oog. My lippe by sy oor.
“Don’t make a fucking sound…” in my beste Boere-Engels.

Hy sak smekend op sy knieë neer en bedek die bloedige gemors wat eens twee oë was met beide hande. Dan val hy vooroor en begrawe sy gesig desperaat in die modder. Sy lyf begin erg ruk. Ek lag. Vir die eerste keer in maande, lag ek. Die magtige man van die Empire se queen se hoer se gat. Kyk hoe pateties lê die ding daar met sy bebloede gesig.

’n Magtige stormwind ruk die tent in die lug op en waai dit weg. Die toneel word in ’n storm van water, rukwinde en blitse geopenbaar. Laat die natuur dit luidkeels verkondig: Satan het vanaand sleg tweede gekom!

© T. Fourie

Deel met jou vriende!

Een kommentaar

  1. skryfsaam gesê op August 5, 2017

    Briljante stuk hierdie, en dit laat ‘n mens nogal dink…

    No votes yet.
    Please wait...

Jy moet in teken om kommentaar te lewer.